top of page
This content was created by Terran Williams and translated and posted with his permission: Please visit https://commonresources.co.za/kids-and-teens/ for more and
have a look at his book "in reach" for a great resource on discipling your children.
EVANGELIE
10 Evangelie verse, wat die aspekte van die evangelie verduidelik.
1) GOD IS GOED
​
Voorwerp: 'n Kraan / Prentjie van 'n fontein
Wat is dit? Ja jy is reg - dit is 'n kraan. Water loop daaruit. Daar stroom aanmekaar water uit ‘n kraan of ‘n fontein hou net aan en aan om te spuit. Wil jy weet hoekom die kraan my aan God laat dink? Want daar is 'n vers in die Bybel wat sê:
​
Numeri 14:18a
‘Ek, die Here, word nie gou kwaad nie en is vol liefde; Ek vergewe mense van sonde en oortredinge,
Sien jy die woord 'vol'? God is so vol, Hy loop oor. Soos 'n kraan, waar die water nooit kan opraak of ophou loop nie, so kan God se vergifnis en liefde ook nooit ‘opraak’ of ophou loop nie. Hy is gereed om genade oor ons mislukkings en slegte gedrag uit te stort. Daar vloei goedheid uit Hom uit, wat nooit kan opraak nie, daar kom net meer en meer. Daar is niks sleg in Hom nie. Ons kan Hom vertrou. Hy is die enigste een wat ons harte kan bevredig en ons gelukkig maak. Ons is soos emmers met 'n paar klein gaatjies in wat stadig leeg loop - ons moet Hom kom besoek om ons harte weer en weer vol te maak met sy oneindige liefde. Watter deel van God hou jy die meeste van? Miskien dat Hy jou altyd vergewe, maak nie saak wat jy doen nie? Of, miskien omdat Hy altyd goed is? Of, omdat Hy altyd vir jou lief is?
​
​
2) GOD HET ALLES GEMAAK
​
Voorwerp: 'n handjie vol ‘aarde/grond’ / 'n prentjie van die aarde vanuit die ruimte.
Wat is dit? Ja, dit is grond, maar kom ons noem dit 'aarde'. Dit is 'n klein deel van iets veel groter - die aarde waarop ons leef, 'n planeet wat vol lewe is, ʼn planeet met baie water, en 'n groot hemel daarbo. Daar is 'n vers in die Bybel wat vra:
​
Psalm 146: 6
Wie het die hemel, die aarde, die see en alles daarin gemaak?
​
Weet jy wat die antwoord van hierdie vraag is? Ja God! Hy het alles gemaak. Absoluut alles in hierdie wêreld is wonderlik. Die maan. Berge. Bome. Wolke. Eekhorings. Golwe. Sand. Ander mense en hul kulture. Selfs hierdie handjievol 'aarde/grond' wat deel is van die groot aarde waarop ons leef. Ons moet nooit vergeet dat 'n goeie Skepper al hierdie dinge gemaak het nie. Watter deel van sy goeie skepping is jy die dankbaarste voor vandag?
​
​
3. ONS IS GOD SE MEESTERSTUK
​
Voorwerp: Spieël
​
Wat is dit? Dit is 'n spieël. Wat sien jy in 'n spieël? Dit is reg - jy sien jouself. Ek wonder wat dink God as hy jou sien? Daar is 'n vers in die Bybel wat vir ons sê:
​
Psalm 139: 14
Ek wil U loof, want U het my op ʼn wonderbaarlike manier geskep/gemaak. Wat U gedoen het vervul my met verwondering.
​
Elkeen van ons is spesiaal en uniek deur God gemaak en Hy is so lief vir ons en koester ons. Wie gee dan nou om wat iemand anders van ons dink of oor ons te sê het? Kyk in die spieël en vra vir God om vir jou te wys wat Hy sien as Hy na jou kyk – Jy is een van sy meesterstukke en jy is uniek en spesiaal. Ag, die domste ding wat ons kan doen, is om onself te vergelyk met ander mense/maats. God het ons gemaak soos Hy van ons hou. Stel jouself voor dat ons almal baie lank was of dat almal kristalblou oë gehad het - hoe vervelig! Om lief te wees vir jouself en te aanvaar hoe God jou gemaak het, is ʼn manier om vir Hom dankie te sê. Vir watter deel van jouself is jy die dankbaarste vandag? Is dit jou oë, hare, lyfie, jou hartjie of jou slim kop?
​
​
4. ONS HET HARTE WAT WIL AFDWAAL
​
Voorwerp: Iets wollerig / prentjie van 'n skaap
​
Wat is dit of waarvan is dit gemaak? Ja, dit is wol wat van 'n skaap af kom. Het jy geweet daar is ʼn vers in die Bybel wat sê mense is soos skape?
​
Jesaja 53: 6
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde vergewe.
​
Skape kan baie dom en hardkoppig wees. Hulle is nie altyd lus om na hul herders te luister nie. Hulle loop maklik weg na gevaarlike plekke. Wel, die Bybel sê dat ons soos skape is! God is ons herder en Hy het 'n pad vir ons gekies, maar ons is baie keer ongehoorsaam en is geneig om af te dwaal. Ons is hardkoppig - ons vergeet dat God ons liefhet, en daarom stap ons soms weg van Hom af en ook weg van die pad en plek waar Hy graag wil hê ons moet wees. Kan jy dink aan 'n tyd wat jy iets gedoen het wat jy geweet het verkeerd was, maar jy het dit in elk geval gedoen?
​
​
5. KYK NA JESUS
​
Voorwerp: ʼn Vergrootglas
​
Wat is dit? Ja, dit is 'n vergrootglas. Wat doen ons daarmee? Dit help ons om te fokus op iets spesifiek en na die detail te kyk wat daar is. Dit maak iets groter, sodat ons beter kan sien wat daar aangaan. Weet jy dat die Bybel sê ons moet ons harte op iets spesifiek fokus?
​
Hebreërs 12: 2
Fokus en hou jou oë op Jesus.
​
Jesus is die wonderlikste persoon; Hy het die hele wêreld saam met sy vader, God die Here, gemaak. Toe het Hy 2000 jaar gelede na hierdie wêreld/aarde toe gekom. Hy was die liefdevolste, dapperste, vriendelikste en wysste, mens wat nog ooit gelewe het. Hy was lief vir die mense op aarde vir wie niemand anders wou lief wees nie. Hy het wonderwerke gedoen. Hy het ongelooflike dinge vir die mense geleer. Op die oomblik is Hy in die hemel saam met die Vader, maar omdat Hy God is is Hy ook net hier by ons, hier naby aan ons. Ons kan alles oor Hom in die Bybel lees, en elke dag aan Hom dink. Elke probleem wat ons het, kan ons met Hom deel en vir Hom vertel. Die res van die Bybelvers sê vir ons dat Jesus die begin en die einde van ons geloof is. Is dit nie ongelooflik nie? Wat is dit van Jesus waarvan jy die meeste hou?
​
6. JESUS HET GESTERF VIR ONS SONDES
​
Voorwerp: 'n Spyker
​
Wat is dit? Ja, dit is 'n spyker. Mens kry baie groter spykers as hierdie een. Een van die hartseerste dae in die geskiedenis was toe mense Jesus gekruisig het. Hulle het massiewe spykers in sy hande en voete ingekap en Hom aan die kruis vasgepen. Die mense wat hierdie nare goed aan Jesus gedoen het, het nie geweet dat God besig was om iets wonderliks te doen nie. In die Bybel lees ons dat:
​
1 Petrus 2:24
Deur Jesus se wonde is ons genees.
​
Ons verdien om vir ons sondes gestraf te word. Maar God het besluit om al die straf wat ons verdien eerder op Jesus te sit en vir Hom te gee. Nou kan ons sonde weggevat word en ons kan onmiddellik vergewe word. Sonde het nie meer mag en krag oor ons nie. Sonde is soos ‘n siekte!. As jy kies om in Jesus te glo, dan word jy heeltemal gesond gemaak daarvan. Is dit nie ongelooflik nie? Hoe voel jy oor Jesus wat vir JOU aan die kruis gesterf het?
​
​
7. JESUS IS WONDERLIK
​
Voorwerp: Lys van name (Jesus se naam is bo-aan die lys)
​
Wat is dit? Dit is reg. Dit is 'n lys met name. Alhoewel God alle mense ewe lief het word sekere mense hoër geag as ander deur God. Raai wie se naam is bo-aan die lys?
Dit is reg - Jesus! Dit word ook in die Bybel bevestig.
​
Filippense 2:9
Jesus se naam is bo elke ander naam
​
Die belangrikste persoon wat ooit geleef het is Jesus. Hy het die perfekte lewe geleef en die prys vir ons sondes betaal.
Hy het egter nie daar opgehou nie. Hy het uit die dood opgestaan en opgevaar na die hemel. As die grootste Een ooit regeer Hy nou die heelal as die Koning van alle konings. Ons noem Hom 'Here' Jesus omdat die naam 'Here' ‘Koning’ beteken. Hy is ons Koning, waardig van ons lof, vertroue en gehoorsaamheid. Is dit nie wonderlik nie? Kan jy aan iemand dink wat groter as Jesus is?
​
​
8. JESUS IS GOD SE GESKENK AAN ONS
​
Voorwerp: 'n Bal
​
Wat is dit hierdie? Dit is 'n bal. Ons kan 'n bal skop, maar het jy geweet dat jy nou op 'n groot bal staan? Dit is reg - planeet aarde, die wêreld wat God gemaak het met miljoene mense daarop. Hoe voel God oor al hierdie mense? Die Bybel vertel ons:
​
Johannes 3:16
God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
​
Ons glo in een God, Hy is Vader, Seun en die Heilige Gees. Die Vader het sy enigste Seun 2 000 jaar gelede na die wêreld gestuur en hom aan ons gegee as die grootste geskenk ooit. Jesus het homself aan die kruis vir ons gegee. Soos wat ons meer in Hom glo begin ons 'n verhouding met Hom en hoef ons nooit bang te wees om ooit van Hom verwyderd te wees nie. Ons sal vir altyd by Hom wees. Sy liefde is só groot dat Hy eerder sou sterf as om sonder ons te wees! Is dit nie wonderlik nie? Het jy al jou vertroue in Jesus gestel?
​
​
9. ONS IS KINDERS VAN DIE VADER
​
Voorwerp: 'n Foto van ‘n pa / storiekarakter van ‘n goeie pa.
​
Nota: In gevalle waar ‘n kind nie ‘n pappa het nie kan die ouer dalk gebruik
maak van ‘n prentjie van ‘n storiekarakter. (Kies ‘n storie waar die pa-karakter
juis die kind versorg en beskerm.) Dit is dan ook nou ‘n goeie geleentheid om
vir die kindjie te laat verstaan dat hy/sy WEL ‘n hemelse Pa het.
​
Wie is dit? Dit is reg – dit is ‘n pappa. Het jy geweet dat God nie net jou Skepper
is nie. Nog belangriker, hy is jou Pa, jou versorger. Die Bybel sê:
​
Gal 4:7
Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God.
​
Wanneer ons op Jesus vertrou aanvaar God ons in sy familie. Aardse pappas is gewone mense en alhoewel hulle baie lief is vir ons maak hulle ook partykeer foute! Omdat God die Vader is maak Hy nooit foute nie. Hy is 'n Pa wat vir ons omgee, ons liefhet, wat ons naby Hom wil hê, ons lei, beskerm en vir ons voorsien. Is dit nie wonderlik nie? Hoe voel jy daaroor dat God jou Vader is?
​
​
10. ONS IS DIE HUIS VAN DIE GEES
​
Voorwerp: Huissleutels.
​
Wat is dit hierdie? Dit is sleutels. Wat doen ons met hierdie sleutels? Dit is reg - sleutels waarmee ons hierdie huis toesluit en oopsluit. As ons in 'n huis bly, besit ons ook die sleutels van die huis.
Het jy geweet dat jy soos 'n huis vir God is? Die Bybel sê ....
1 Korintiërs 6:19
Het jy nie geweet jou liggaam is 'n tempel van die Heilige Gees nie?
Onthou dat ek gesê het daar is slegs een God maar dat hy terselfdertyd Vader, Seun en Gees is? Een God in 3 persone.
Nadat Jesus opgevaar het na die hemel het Hy sy Gees gestuur om sy plek op aarde te vervul. Wanneer ons in die Seun glo en Hom vertrou, ontvang die Heilige Gees die sleutels tot ons lewens. Hy kom en leef binne ons. Ons is sy tempel. Ons is sy huis. Is dit nie wonderlik nie?
Hoe voel jy oor die Heilige Gees wat binne jou woon?
bottom of page