top of page

This content was created by Terran Williams and translated and posted with his permission: Please visit https://commonresources.co.za/kids-and-teens/ for more and

have a look at his book "in reach" for a great resource on discipling your children. 

WYSHIEID

5 Spreuke, om ons te lei in ons daaglikse lewe

Die belofte waarna ons gister gekyk het, sê dat God se Woord soos ‘n lig op ons pad sal wees  wat vir ons die weg sal wys. Net sowel, want die lewe is soms baie ingewikkeld. Baie mense dink hulle weet hoe om die lewe te lewe, maar weet hulle rêrig? Die boek Spreuke gee vir ons baie belangrike wenke oor hoe om die lewe reg te lewe. Kom ons kyk na vyf maniere hoe Hy ons lei…

26. KIES WYSE VRIENDE

Voorwerp: ‘n Vriend/in (wys ‘n foto of vra hulle om hulle naaste vriende op te noem).

Wie is jou vriende? Van hulle almal, wie is jou naaste/beste vriende? Vriende is een van God se groot seëninge aan ons. Maar die Bybel sê ons moet ons vriende wys kies, want hulle beïnvloed die manier waarop ons, ons lewe leef…

Spreuke 13:20

Wie met wyse mense meng word self wys

Sien, die kies van jou vriende, vorm die kwaliteit en rigting van jou lewe. Hulle vorm die soort mens wat jy word. As jy meestal kuier met ongeskikte vriende, word jy ook meer ongeskik. As jy met gawe vriende kuier, word jy ook gawer. As jou naaste vriende nie lief is vir God nie, mag jy agterkom dat jy God nie meer so liefhet soos tevore nie. So, kies vriende wat die regte dinge doen en wat jou en ander mense goed behandel. Wees jy ook daardie soort vriend vir ander.  Hoe kan jy ‘n beter vriend wees vir jou huidige vriende? Is daar ‘n nuwe vriend wat jy kan maak?

 

27) PRAAT SAGTE WOORDE

Voorwerp: Olie en ‘n glas water

 

Ek gaan dit nie rêrig doen nie, want ons kan aan die brand slaan, maar verbeel jou daar is ‘n vuur in ‘n pan. Wat sal gebeur as ek olie daarop gooi? Dis reg, dit sal die vuur baie erger maak en versprei. En as ek water daarop gooi? Dis reg, dit sal kleiner word en selfs doodgaan. Nou, wat doen jy as ‘n vriend of iemand saam met wie jy bly begin beheer verloor teenoor jou en hard met jou praat? Die Bybel leer en rig ons…

Spreuke 15:1

‘n Sagte antwoord laat woede bedaar

 

Wanneer iemand gefrustreerd en kwaad is en jou onbeskof en verkeerd behandel voel ‘n mens mos dadelik om ook net so ongeskik en lelik op te tree teenoor daardie persoon. Dit is egter dan so goed of jy gooi olie op ‘n brandende vuur!  Die vonke gaan spat en ‘n groot brand veroorsaak wat mens baie seer kan maak en baie skade kan aanrig. Die Bybel leer ons om kalm te bly, sag te praat en selfs weg te stap. Deurdat jy kalm en gaaf bly gee dit hulle tyd om af te koel en te bedaar. Kan jy ‘n keer onthou wat jy só opgetree het en dit gewerk het? 

28. STAAN OP VIR SLAGOFFERS

Voorwerp: ‘n Prent van arm kinders.

Wat dink jy voel God vir mense wat seerkry en swaarkry? Dis reg – Hy gee baie om vir hulle. Hy gee om vir die mense wat geboelie en geslaan word in die wêreld – en dié wat boelie en slaan maak Hom kwaad en hartseer. Wat moet ons doen as ons in so ‘n situasie beland?

Spreuke 31:8

Help die mense wat nie self hulle saak kan stel nie. Wees jy hulle stem. Kom op vir die hulpeloses

Regoor die wêreld ondervind mense wat sterker is as ander die versoeking om swakker mense sleg te behandel. Soms maak volwassenes kinders seer of verwaarloos hulle. Dikwels misbruik of verwaarloos ryk mense die arm mense, of leiers van die land boelie en misbruik hulle eie mense. Of ons mensdom vernietig die plant- en dierelewe. Dit moet stop! Kan jy dink aan mense of diere wat ons ken of van weet wat nie vir hulleself kan praat nie? Wat kan ons doen?

29. WERK HARD

Voorwerp: ‘n Mier, of ‘n youtube video van miere wat hard werk.

Weet jy waarvoor is miere beroemd volgens die Bybel? Dis reg – hulle werk hard. Nou, ek sê nie dat daar nooit tyd moet wees om te ontspan en te speel nie. Maar daar is ook ‘n tyd vir ons om hard te werk en ons deel te doen en te help met take in ons huis en skool. Kyk hoe inspireer God ons…

Spreuke 6:6

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.

‘n Luiaard is iemand wat lui is. Hulle vermy take en pligte by die huis of skool, asook om agter hulleself skoon te maak. As jy inspirasie nodig het (omgepraat moet word) om hard te werk, om jou bes te doen en om uit te help by die huis en skool, gaan na die miere. Daardie klein goggatjies weet hoe om op hul hardste te werk, die hele tyd. Raak geïnspireer (lus gemaak) deur hierdie miere en besluit dan watter take gaan jy meer gereeld doen of waarmee kan jy jou ouers help? Verras hulle! Doen iets sonder dat hulle eers hoef te vra.

30. LUISTER NA JOU OUERS

Voorwerp: Ore

Wat is dié? Dis reg – ‘n oor! En waarvoor is ore? Ja – om te luister! Nou, ons weet dat die Bybel sê dat ons na God moet luister. Maar weet jy wat sê die Bybel na wie moet ons nog luister, veral as ons nog jonk is? Hoor hier…

Spreuke 13:1

'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader,

God het vir jou ouers gegee, nie om jou lewe te ruïneer nie, maar om jou lewe beter te maak. Hulle wil net die beste vir jou hê, daarom is dit slim om na hulle te luister en om gehoorsaam te wees. Wanneer jy voel hulle is onregverdig, praat met hulle daaroor. Ouers maak ook foute en is bereid om om verskoning te vra indien nodig. (Die res van die vers sê: ‘n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie.) Kan jy aan een manier dink hoe jou gehoorsaamheid dinge makliker in jou huis sal maak? 

bottom of page