top of page

WAT ONS GLO

JESUS


Die Goeie Nuus (Die Evangelie) is 'n persoon, die God-Man Jesus Christus.

So maak Markus 1:1 dit duidelik:

Markus 1:1
Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.

Die Evangelie is die baie goeie nuus van God se genade wat soos dagbreek die donker wêreld kom verlig. Dit verwys na die lewe, die dood aan 'n kruis en die opstanding uit die dood van Jesus, die ewige seun van God, en al die gawes en voordele wat daaruit vloei. Die kruis is die hartklop van die evangelie.
Sy opstanding is die krag en Sy heerskappy aan die regterhand van God, is die glorie.

 

Ons kern geloofstellings is gewortel in die openbaring van die Bybel en nie in tradisie of spekulasie nie. Alhoewel ons glo die waarheid kan en moet in 'n moderne manier aan ons samelewing gekommunikeer word, bly ons vasbeslote om geanker te wees in die onwankelbare en tydlose waarheid van die Woord.

GOD

Ons glo in een God wat in liefdevolle gemeenskap in drie persone bestaan: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Hulle is aan mekaar gelyk. Jesus is die ewige seun van God. Hy is volledig mens asof Hy nie God is nie en volledig God asof Hy nie mens is nie.

OPENBARING

Sonder God se inisiatief en selfopenbaring sal ons nie kan weet wie Hy is nie. Hy het Homself aan die wêreld geopenbaar deur Jesus Christus, Sy Woord (die Bybel) en deur Sy Skepping.

 

SKEPPING

Ons glo dat God alles uit niks uit geskep het. Alles is van Hom, deur Hom en op die ou einde tot Hom. Ons glo ook dat Hy absoluut in beheer is en dat Hy oor alles heers, ten alle tye en op alle plekke.

 

MENSDOM

Ons glo dat die mensdom die kroon van God se skepping is. Geskep na Sy gelykenis en beeld. Dus glo ons dat elke liewe mens in hul blote bestaan 'n heilige waardigheid het.  

SONDE

Die mensdom het gesondig en in ons harte en dade God verwerp as God. Die sonde het God se perfekte skepping en ons perfekte verhouding met Hom verbreek. Sonde, smart en siekte is nou volop in God se wêreld. Die gevolge van sonde is letterlik dodelik. Die ergste is dat alhoewel God diep lief is vir die mens, verag Hy sonde en dus staan die mens skuldig voor God en Sy vurige oordeel.

REDDING


Ons is meer skuldig en sondig as wat ons ooit kan dink maar God het ons meer lief as wat ons ooit kan droom. Dus het Jesus gekom en namens ons die perfekte lewe gelei en gewillig vir ons gesterf aan die Kruis. God het Sy geregverdige woede teenoor die Sonde op Sy seun laat neerkom toe Hy aan die kruis gesterf het. Vir die wat dit glo is daar 'n ewige redding, vergifnis en 'n nuwe lewe in 'n verhouding met God. Ons is gered deur geloof alleen, uit genade alleen, in Jesus alleen. God het dit ook so beplan en bewerk sodat niemand ooit sal kan roem behalwe in God self nie.

DOOP

Ons glo die doop is vir dié wat tot geloof in Jesus gekom het, net soos Hy dit aan Sy volgelinge verduidelik het.  Dit geskied deur indompeling. Só identifiseer die Christen  met Christus in Sy dood, Sy begrafnis en Sy opstanding. Alhoewel ons nie glo dat die doop noodsaaklik is vir redding nie, glo ons dit is een van die eerste stappe van ons nuwe lewe in gehoorsaamheid aan Jesus.

HEILIGE GEES

Ons glo dat een van die grootse beloftes van Jesus se evangelie is dat Hy Sy Heilige Gees gestuur het om in elke gelowige persoon te woon en in 'n kragtige manier te vul. Dit is in die vervulling wat die waarhede van God se liefde vir die gelowige 'n tasbare realiteit word. Ons glo ook dat die Heilige Gees se gawes aan Sy kerk gegee is om haar op te bou. Ons glo dat ons absoluut afhanklik is van die Heilige Gees se krag, teenwoordiheid en leiding in ons strewe om lewens te lei wat God verheerlik en om 'n  impak vir Sy koninkryk te maak.

GESTUUR

Omdat ons glo dat die Kerk aan Jesus behoort, glo ons steeds aan Sy woorde om dissipels van alle nasies te maak. Daarom wil ons hieraan gehoorsaam wees. Ons glo dus dat ons lewe om 'n missie te vervul. Ons glo dat elke kind van die Here 'n rol te speel het om soos Jesus, deur Sy Kerk, die nasies vir God terug wen.

 

WEDERKOMS

Ons glo dat Jesus belowe het om persoonlik weer aarde toe te kom om die geskiedenis soos ons dit ken tot 'n einde te bring en om die lewendes en die dooies te oordeel. Hy Sal vir ewig oor Sy geredde mense heers in Sy nuwe skepping, sonder enige onheil.

 

 


 

bottom of page